VAALDRIEHOEK - Skole het vandag geopen te midde die implementering van die omstrede Bela-wetgewing. Die vakbond Solidariteit sê skole en onderwysers moenie toelaat dat hulle deur politieke amptenary of politieke partye geboelie word om sekere klousules van die Bela-wet dadelik te implementeer nie. Die norme en standaarde binne die wetgewing wat juis bedoel is om skole, onderwysers en kinders te beskerm moet nog opgestel en goedgekeur word. Die vakbond sê dit hou die situasie fyn dop en sal nie intimidasie by skole toelaat nie.
Intussen doen die Vryheidsfront Plus 'n beroep op president Cyril Ramaphosa om die volle proklamasie van die BELA-wet, wat verlede maand aangekondig is, te herroep. Die party voer aan die besluit strook nie met die aanbevelings van die regering van nasionale eenheid se geskilbeslegtingsmeganisme nie, wat vra vir verdere raadpleging oor omstrede afdelings oor taal- en toelatingsbeleide. Wynand Boshoff van die VF Plus sê hulle beplan om die proklamasie deur wettige kanale uit te daag om moedertaalonderrig en enkelmediumskole te beskerm.
Comments