VANDERBIJLPARK - Die Emfuleni Munisipaliteit sê in 'n verklaring die gebied is onder Vlak 1-waterbeperkings en versoek sy verbruikers om water te bespaar. Dit is weens lae opgaarvlakke en oormatige wateronttrekkings deur Gautengse munisipaliteite. Rand Water het hierdie beperkings uitgereik om watertoevoerstelsels te help herstel en 'n dreigende krisis in die provinsie te voorkom. Om die 20%-waterbesparingsteiken te bereik, word daar van Emfuleni-inwoners verwag om water spaarsamig te gebruik om onderbrekings in toevoer te vermy. Ingevolge die Vlak 1-beperkings word inwoners verbied om grasperke en tuine tussen 6 uur in die oggend en 6 in die aand nat te lei. Die gebruik van tuinslange om voertuie, opritte, sypaadjies of geboue te was, en om swembaddens op te vul, word ook beperk. Hierdie maatreëls sal in plek bly tot verdere kennisgewing. Die verklaring waarsku dat indien watertoestande vererger weens lae reënval en hittegolwe, strenger maatreëls ingestel kan word, wat moontlik tot onderbroke watertoevoer kan lei. Die munisipaliteit doen 'n beroep op almal om saam te werk om water te bespaar.
top of page
bottom of page
Comments